Allomorf

In die morfologie is 'n allomorf 'n vormvariasie waarin 'n morfeem kan voorkom. Die term kom vanuit die Grieks ἄλλος (allos) wat beteken "ander" of "variante" en μορφή (morfé) wat beteken "vorm".

Allomorfe het te make met die variante wat daar van verskillende woordvorme te vinde is. Weens sekere morfologiese of woordvormingsprosesse gebeur dit dat ’n vrye stam binne bepaalde morfologiese kontekste ’n ander fonologiese of skriftelike vorm kan hê. Só ’n veranderde vorm (of variant) staan bekend as ’n allomorf. Dus vorm allomorfie deel van die sentrale bestel van die Afrikaanse morfologie. Verder kan die term allomorf beskryf word as ’n klankwisselvorm wat morfologies verskil in waarde, m.a.w. ’n klankwisselvorm wat ’n morfologiese valensie (MV) het wat verskil van dié van die grondvorm. Bv. die MV van liewer is liewers, liewerse en liewerster.[1][2]

  1. Combrink, J.G.H. 1990. Afrikaanse Morfologie: Capita Exemplaria. 1ste uitgw. Pretoria: Academica
  2. Van Huyssteen, G.B. 2014. Morfologie. (in: Carstens, W.A.M. & Bosman, N. [red.] 2014. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik Uitgewers. (179-181).

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy